INHOUDSOPGAWE
Voorwoord

Die Lippiese pagterfamilie Bar(c)khausen

'n Familiewapen


Spelling van die naam

Die stamboom vanaf ... ?

Stamvader - Johan Nicolaas Wilhelm en sy gesin

Barkus se ketel (wat nie wil kook nie)

Hoe om die register te gebruik

Die kinders van Johan Nicolaas Wilhelm

Die nageslag van die oudste seun Nicolaas Jacobus

Die tweede seun: Johannes Cornelis - van die plaas Kliprivier

Die derde seun: Simon Hendrik - Die Barkhuizens na die binneland

Die ander drie seuns: Johan Nicolaas Wilhelm, Frederik Christoffel en Petrus Hendrik Carel

Bronne

Besoek ook die webblad van Rudolph Barckhausen www.barckhausen.com

. VOORWOORD

Ohne Tradition, keine Kultur,
Ohne Kultur der Mensch ein Barbar”
(Oswald Spengler)

Hierdie boekie is slegs die begin van 'n ideaal om 'n register en geskiedenis van die Barkhuizen‑familie daar te stel. In elke familie lê daar 'n ryk en trotse tradisie opgesluit wat bewaar moet word. Dit is nie slegs die name in die register nie, maar foto's, gebeure en vertellings wat die verlede laat herleef.

My eerste “navorsing” het reeds op Universiteit begin toe ek kennis gemaak het met die Staatsargief. Intussen het ek al kontak met talle familielede gehad en sekerlik ‘n hoogtepunt was toe die Duitse Bar(c)khausen Familienbund se sekretaris, Rudolph Barckhausen, met my kontak gemaak het. Dit het gelei tot gereelde skakeling en van ons familie het ‘n paar van die Familienbund se saamtrekke bygewoon. “n Besondere geleentheid was toe ‘n oom van my, Prof. Ben, namens die Suid-Afrikaanse familie opgetree het by die fees in Frankryk (deur Raymond Barckhausen gereël) wat ter ere van al die nie-Duitse Barkhausens gehou is. In 1993 het dr. Jobst Barckhausen, destydse president/voorsitter van die familiebond, en sy vrou, Irmelin, ons kom besoek.

In hierdie boekie word eerstens die oorsprong van die familienaam en die geskiedenis van die familie in Duitsland kortliks bespreek. Ek het grootliks gesteun op die boek van Roland Linde,” Meier zu Barckhausen, Eine Geschichte der Höfe Niederbarkhausen und Hohenbarkhausen in Lippe”, wat in 2006 verskyn het. Daarin word ‘n breedvoerige verslag gegee oor die twee groot Barkhausen families in Duitsland, die rooi linie van Niederbarkhausen en die blou linie van Hohenbarkhausen.

Die volgende dele fokus op die stamvader se gesin in Duitsland, sy aansluiting by die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie en die skeepsreis na Suid-Afrika. Omdat daar nie veel persoonlike besonderhede van Jan Barkhuysen is nie, en omdat hy maar een van letterlik honderdduisende Duitsers was wat dieselfde paadjie geloop het, het ek inligting uit ander bronne gebruik om die enkele stukkies gegewens binne konteks te plaas. Hier is die boek van Roelof van Gelder, “Het Oost-Indisch Avontuur; Duitsers in dienst van de VOC (1600 -1800)”, en Karel Schoeman se boek oor sy stamvader, “’n Duitser aan die Kaap, 1724 -1765” veral van belang gewees. .

Vervolgens probeer ek die lewe van die stamvader in Suid-Afrika rekonstrueer. ‘n Mens is eintlik verstom oor hoeveel besonderhede steeds beskikbaar is van iemand wat maar ‘n doodgewone burger was in die laaste kwart van die 1700’s en vroeg 1800’s. Die eerste rede hiervoor is geleë in die nougesette administrasie van die

VOC en later die Britse regering, wat met groot sorg elke ding in besonderhede aangeteken het. Tweedens is die kerkrekords natuurlik van onskatbare waarde.

In die laaste deel word die nageslag van elkeen van die stamouers se seuns en dogters afsonderlik bespreek. Dit word in die vorm van ‘n geslagsregister gedoen met enkele stukkies biografiese inligting en “geskiedenis” bygewerk.

Alhoewel die register vir al die kinders tans redelik volledig is, het ek aanvanklik my navorsing gekonsentreer op die “Transvaalse” stamvader (Simon Hendrik - b4). Hier word die nageslag van Jacobus Johannes (b4c3d3) en Johanna Catharina Louw ook weer baie vollediger bespreek. Die rede daarvoor is dat die ontstaan van die boekie te danke is aan twee familiesaamtrekke wat by Aandster naby Schweizer-Reneke gehou was vir die afstammelinge van laasgenoemde twee mense.

Ek hoop u geniet die inligting. Mag ons almal meer geesteskrag, selfvertroue en lewensaansporing uit elke kyk na ons familiegeskiedenis kry, en so die volle waarde daarvan benut.

Help gerus ook om dit meer volledig te maak. Die geskiedenis behoort tog aan almal. Vir diegene wat toegang tot die internet het is al hierdie inligting te kry op www.barkhuizen.co.za. Ek beplan om egter binnekort die familiegeskiedeniswebblad na www.barkhuizen.info te skuif.

Miskien kan ek as laaste opmerking net noem dat op 3 Maart 2016 is dit die 250e herdenking van Johan Willem Barckhausen se aankoms in die Kaap. Dit klink vir my na iets wat gevier moet word.

2. DIE LIPPIESE PAGTERFAMILIE BAR(C)KHAUSEN

2.1 Die landgoed Niederbarkhausen

Volgens Rudolf Barckhausen word vier verskillende nie-verwante takke van die Barckhausen familie in Duitsland gekry. Die Suid-Afrikaanse tak stam van die boerefamilie van die landgoed Niederbarckhausen af. Hierdie ou landgoed bestaan vandag nog in die dorpie Oerlinghausen en is geleë in die Teotobergerwoud aan die voet van die Tünsberge. Dit word tans besit deur die Tenge familie wat die grond in 1800’s gekoop het. Skaars 20 km hiervandaan is Hohenbarkhausen gelee wat weer ‘n ander tak veteenwoordig.

Die eerste skriftelike verwysing na hierdie geboue is ‘n aantekening op 25 Mei 1036 toe die landgoed “Hof Burchusen” deur skenking deel van die Bisdom Paderborn, destyds gelei deur Biskop Meinwerc geword het. Daarmee saam het die eienaar van Borchusen as vrye grondbesitter nou 'n beampte van die Biskop geword.

Dit het tydens die Middeleeue hehaaldelik gebeur dat 'n vrye grondbesitter sy grond aan die Roomse kerk skenk, hetsy dit besorgdheid oor sieleheil was of om as leenman van die kerk hulle magtige beskerming te geniet. In ruil vir bogenoemde word die eiendom dan die kerk se besitting en die skenker sal voortgaan om die grond as pagter te bestuur. Ons voorvaders was dus as pagters (Duits=Meier) nie deel van die landadel nie. Die pagter was die bestuurder (boer) van die kerkeiendom. Later het pagters ook vir ander ryker boere gewerk.

FOTO: Niederbarckhausen in 1500 volgens ‘n skildery in die landgoed.

 

  Niederbarckhausen soos dit in 1993 gelyk het .

 

2.2 Betekenis van die woord “barkhausen

Text Box:  Vir die Barkhuizens is Niederbarkhausen nie net die stamlandgoed nie maar ook die naamgewer. Die naam van die landgoed het ook die familienaam geword. Maar wat is die betekenis van die woord “barkhausen”? Die “hausen” deel is maklik en was in Lippe baie gewild as plek en familienaam. Daar is meer as 3000 name met die uitgang “hausen”. Op die Barkhausen familiewapen verwys die twee dakkappe na die huis.

Die idee dat die “bark” ontleen is van die Berke- of Birkeboom is baie oud en baie algemeen. Die boom op die familiewapen is ‘n bewys daarvan. Volgens die historikus, Roland Linde, is die verbuiging van Birk na Bark uiters skaars in oudhoogduits en hy beskou die verklaring dat dit verwys na die boom as ‘n blote volksetimologiese verklaring.

Sommige vroeë navorsers het aanvaar dat die woord Bar(c)k afkomstig is van ‘n ou Duitse woord “Burc” wat Burg beteken.. Die indrukwekkende toring van hierdie " hof", wat selfs vandag nog die gebou oorheers, kon maklik aanleiding gegee dat die landgoed "Burchausen" genoem is. Hierdie toring wat ‘n bekende baken was sou toe ook sommer die naam van die hof word.

Die historikus Linde noem dat die waarskynlikse betekenis is dat dit van die woord “berg” kom. Hy het verskeie voorbeelde aangehaal in die vroegste geskrifte waar die pleknaam aangedui word as “berghusen”. Die ontwikkeling van berg na barc kan ook makliker uit die Duitse taalstruktuur verantwoord word. Die verandering van berg na bark is veral baie opvallend by die ander landgoed, Hohenbarkhausen, se naamsontwikkeling.

Die gebruik in Lippe is dat die hofname ook die familiename geword het. Die familie wat die grond bewoon het, het die landgoed se naam as hulle van aangeneem. Die verbindings tho, to, von, van en von der is die verwysing na die "stammhof" of plek van herkoms.

www.barchausen.com

 

Lugfoto Noord-aansig Suid-aansig Ingang

'n Paar fotos van Niederbarckhausen soos dit ongeveer 10 jaar gelede gelyk het

 

2.3 'n Familiewapen?

In die 1920’s het twee takke van die Barkhausen familie in Duitsland (die blou linie - Hohenbarkhausen en die rooi linie -Niederbarkhausen) besluit om een wapen vir die hele familie te registreer. Die wapen is toe baseer op die oudste wapen wat beskikbaar was en dit is afkomstig van Niederbarkhausen.

Ek glo dat ons Suid-Afrikaanse familie ook hierdie wapen van die Barckhausen familienbund kan gebruik omdat ons afstamming kan bewys. Daar is seker nie nodigheid om ‘n eie wapen te registreer nie maar aan die ander kant kan dit ook goed wees.

2.4 Spelling van die familienaam in Duitsland

Volgens Heese stry die mense in Uniondale se wêreld of die van Barkhuysen of Barkhuizen moet wees, maar eintlik is albei verkeerd. Die stamvader het eiehandig sy van as Barckhuysen geskryf. Ek sal later aandag gee aan die Suid-Afrikaanse variasies.

Dr. Jobst Barckhausen het lekker gelag toe hy hoor van die verskillende spelwyses in Suid-Afrika. In Duitsland gaan dit weer oor die (c) in die spelling. Soos hy vertel stry die Duitsers ook of dit Barckhausen “mit c” of Barkhausen “ohne c” is.

 

Handtekening van stamvader JAN WILLEM BARCKHUYSEN soos dit onderaan die kontrak met Van Rensburg verskyn in 1768.. Let daarop dat hy die c uit Duitsland behou het maar onder invloed van die Nederlands (hausen) na (huysen) verander het.

2.5 Die stamboom vanaf 1280

Die eeste verwysing na 'n "Meiger to Borchusen" is Volkwin tho Borchusen in 1280. In die registrasieregister van Lippe op 25.11.1357 word verwys na Hennece Volcwinic to Borchusen as 'n huisbewoner te Borchusen. Die naam is ‘n genetiefvorm wat dui op, Heinrich, seun van Volkwin.

In die jare 1300 het die pagterberoep oorerflik geword en daarom kan afstamming ook veral uit baie vroeë rekords vermoed word. Die historikus, Roland Linde, twyfel egter of Volkwin en Heinrich pagters van Barkhausen gewees het.

In 1435 word verwys na Martin Meyger tho Barchusen wat volgens Ronald Linde se navorsing die eerste persoon is wat met sekerheid in die stamboom opgeneem kan word. Ook in 1488 vind mens in die “Landschatzregister” die verwysing na die oue pagter Hartwig zu Barkhausen. Hy moes 6 Gulden belasting betaal.

Tussen die jare 1466 en 1510 is Cord der Fromme, (Cord die Vrome) met die pagtersbrief vir die Hof Barkhausen aangestel en volgens die Lippiese register van 6 November 1497 word hy as Hoofpagter (Amtsmeier) van Barkhausen genoem.

Die sekretaris van die Familiebund‑Barckhausen in Duitsland, Rudolf Barkhausen, is vandag die voorloper met navorsing oor die familie. Die volledige Barckhausen geslagsregister is op sy webblad te sien. Ek gee hier net so ‘n oorsig oor die stamboom.

Volkwin tho Borchusen *1280 = 1360. (Sy voorvaders is onbekend). En sy seun Heinrich tho Borchusen * 1315 +1360. Huisbewoner te Borchusen. Alhoewel hierdie name wat in eerste dokumente oor Barchusen genoem word heel moontlik voorvaders was kan dit nie bevestig word nie. Rudolf laat hulle dus uit die stamboom.

Nr.1 Martin Meyger tho Barchusen * ongeveer 1375 + 1435 in Barchusen.

Nr.2 Hartwig tho Barchusen * Barchusen 1410 + 1497. "Meier" (Huurder) in Barchusen tot 1466.

Nr.3 Cord tho Barchusen * 1435 + 1523 in Borchusen. Bekend as Cord die Vrome.

Nr.4 Cordt tho Barchusen * Barchusen 1470 + Barchusen 1532. x 1495 Sophia (Fige). Benaming in 1518 as Cordt der Glaübige (gelowige). "Huurder" in Barchusen 1497 ‑ 1532. (Vier kinders).

Nr.5 Jobst to Barchusen * Barchusen 1501 + Uflen 1575 x 1535 Ilsabel (Ilsa) Tofall. Staan bekend as Jobst der Ruhige (rustige). Hulle het vier kinders.

Nr.6 Christoph to Barckhusen * Barckhusen 1539 + Barchusen 1613. x 1566 Catharina Tilhen (3 kinders). Huurder te Gohfeld en Barckhusen.

Nr.7 Christoph to Barchusen * Barchusen 1570 + Barchusen 1642. x 1610 Margarethe (ses kinders). Bly in Barchusen 1600 ‑ 40.

Nr.8 Christoph Barchusen * Barchusen 1620 + Hornoldendorf 1700. x 1660 Catharina (vyf kinders). "Conductor" te Hörn, Pömbsen en Heilichenkirchen.

Alle voorvaders tot op hierdie stadium het op Nieder-Barkhausen gewoon.

Die landgoed is volgens tradisie aan die jongste seun oorgegee. Hierdie Christoph was die oudste seun en daarom moes hy Nieder-Barkhausen verlaat. Ons stamvader se oupagrootjie moes dus die beroep van pagter /conductor volg, wat beteken dat hy ‘n vir ryk families as plaasvoorman moes gaan boer het.

Nr.9 Friedrich Otto Barckhausen * 1660 in Horn/Lippe, + Horn 16.04.1738. x 1691 met Sophia Catharina PLAGEN. "Conductor" te Rothensiek en Eichholz. Hulle het ses kinders gehad.

Nr.10 Nicolaus Barckhausen * 13.07.1700 te Heiligenkirchen/Lippe, + 17.01.1765 in Eichholz x 1725 met Anna Catharina CLEVE. "Conductor" te Merlsheim en Eichholz ( Detmold).

Hulle kinders is:

1. Friedrich Christoph *1726 Merlsheim, Driburg + 4.10.1789 Horn, Amt Detmold

2. Otto Henrich Jacob *28.12.1727 Hinter Eicholz

3. Simon Friedrich Adolph *16.02.1730 Hinter Eichholz

4. Simon Henrich *14.06.1731 Hinter Eichholz +4.08.1788 Surabaya Mataram, Java X Elizabeth WINTER. Hulle het een aangenome kind Frederik Wilhelm Simonzoon Barkhouse.

5. Herman Carl Dietrich *13.03.1734 (die broer wat aan JNW geskryf het in 1790) Sy seun Dietrich het in weer in 1815 ‘n brief in Nederlands aan die stamvader geskryf (Albei briewe is in die familie se besit.) Dr Jobs Barckhausen die huidige voorsitter van die familiebond stam van hom af.

6. Sophia Catharina Theodora *01.09.1737 Hinter Eichholz + 27.09.1747 Hinter Eichholz

7. Johan Wilhelm *31.03.1740 Hinter Eichholz X

8. Wilhelm *26.10.1742 Hinter Eichholz + 27.09.1747 Hinter Eichholz

9. Johann Wilhelm Nicolaaszoon * 30.05.1746 (Ons stamvader)

 

Dit is interessant om te sien hoeveel van die familie se name is oorgedra na die Suid-Afrikaanse familie nl. Johan Nicolaas Wilhelm, Anna Catharina, Simon Henrich (as Simon Hendrik) en Friedrich Chrisoph (as Frederik Christoffel).

 

Heese, Eeufeesboek van Uniondale. p

Linde: Meiger zu Barckhausen

Linde: Meiger zu Barkhausen

3. DIE STAMVADER - JOHAN WILHELM NICOLAASZOON BARCKHAUSEN (a)

3.1 Die gebied vanwaar die familie kom

Soos reeds gesien is die landgoed Nierderbarkhausen die sentrum van ons familie. Hierdie landgoed is geleë in die huidige dorp Oerlinghausen in die ou Graafskap Lippe (In Duits word dit vandag ‘n Kreis genoem). Kreis Lippe is weer in die streek Nordrhein-Westfalen geleë. Die kaart dui die ligging aan.

Alhoewel die kaart nie Oerlinghausen aandui nie, is die dorpe baie na aan Steinheim geleë en is die kaart net bedoel om die gebied in Duitsland aan te dui. Steinheim is egter vir ons belangrik as die dorpie waar stamvader gebore is

Inliging oor stamvader se familie en voorvaders dui aan dat hulle maar almal in daardie omgewing gewoon het. Verwysings na kerke, kapelle en landgoedere in die omgewing van die dorpies Detmold, Horn, Steinheim, Paderborn, P ömpsen en Schwalenburg kom gereeld voor. Op ‘n moderne kaart van Duitsland kan jy sien dat vanaf ‘n middelpunt hierdie dorpies nie juis verder as 25 kilometer van mekaar is nie. Vir ‘n verdere geografiese oriëntering kan mens sien dat feitlik al hierdie dorpe maar eintlik in die Kreis (ou graafskap) Lippe geleë is en dat Steinheim net-net in Kreis Höxter val. Paderborn is ook in ‘n aparte Kreis.

Hierdie is ‘n lugfoto van Oerlinghausen. Die foto is op hulle webblad te kry. Die Teutoberger woud en die Tünsberge kan mooi gesien word.

 Daar bestaan verkeie plekkies in Duitsland wat met die naam Barkhausen spog. Behalwe die landgoed Nieder-Barkhausen is daar die dorpie Barkhausen naby Detmold, die Barkhauser berge by Oerlinghausen en Barkhausen an der Minden by Porta Wesfalica.

3.2 Die stamvader se gesin in Duitsland

Nicolaas, Jan se pa, is gebore in Heiligenkirchen waar sy pa . Nicolaas moes in sy lewe ook saam met sy pa na die gemeentes Pömpsen en Hornoldendorf, albei in die omgewing van Detmold, verhuis. Uiteindelik het hulle by die landgoed, Hinter- Eicholz, naby die dorpie Steinheim (vandag eintlik ‘n voorstad van Steinheim), gevestig. Nicolaas was die pagter daar vir die familie ?. Jan is daar op 30 Mei 1746 gebore en sy pa Nicolaas is ook daar oorlede. Sy vader, Nicolas, was “Conductor” te Mersheim in Eicholz. Sy ma, Anna Catharina Cleve, is van Pömbsen, in Kreis Höxter, Lippe.

Jan is die jongste van nege kinders. In werklikheid is hy gedoop as Johan Wilhelm Nicolaaszoon Barckhausen. Dit was natuurlik om hom te onderskei van ‘n ander broer wat ook Johan Wilhelm was. Hierdie ander broer met dieselfde naam is egter jonk oorlede.

Van die nege kinders wat gedoop is het slegs vier volwassenheid bereik. ‘n Aanduiding van die moeilike omstandighede waarin die mense ook maar in Duitsland gelewe het. ‘n Ramp het die gesin in op 25 September 1747 getref toe Jan net een jaar oud was. Sy ouer suster, Sophia Catharina Theodora (10 jaar oud) en sy broer Wilhelm (5 jaar oud) is albei op hierdie dag oorlede. Drie ander kinders Otto Henrich Jacob gedoop 1727, Simon Friedrich Adolph gedoop 1730 en Johan Wilhelm gedoop 1740 is oënskynlik as baie jong kinders oorlede. Die vier wat volwassenheid bereik het is dus Friedrich Christoph, ongetroud en ‘n offisier in die Pruisiese weermag, Simon Henrich, wat as “zieketrooster” in diens van die VOC na Batavië is, Herman Carl Dietrich, ‘n koopman in Hanover en Johan Wilhelm Nicolaszoon, ons stamvader, wat in diens van die VOC na Suid-Afrika gegaan het.

Wat is die stamvader se naam nou eintlik? Volgens Rudolph Barckhausen is hy Johann Wilhelm Nicolaaszoon Barckhausen gedoop. 'n Broer van hom voor hom gedoop is, is ook Johann Wilhelm. Die Nicolaaszoon (seun van Nicolaas) moes hom dus onderskei van sy broer. Die "zoon" agtervoegsel was ook 'n algemene gebruik om kinders met dieselfde name in 'n groot familie te onderskei.

Die volgende verwysing na sy naam is in 1765 in die skeepsjoernaal van die Kievitsheuvel. Daar staan aangeteken “Johan Willem Barkhuysen”. Hier is dit eerstens duidelik dat sy name onder die Nederlandse invloed deurgeloop het. In 1771 teken hy sy eie naam onderaan die kontrak met sy werkgewer en latere skoonpa, Nicolaas Van Rensburg. Hy skkryf met sy eie netjiese handskrif “Jan Willem Barckhuysen”. Dit lyk of die Jan nou maar sy noemnaam geword het. Hy het verder of die Nicolaaszoon nie as deel van sy name gesien nie of dit is net bloot te lank om uit te skryf. Baie interessant is dat die Nederlandse "huysen" nou maar die "hausen" oorgeneem het. Hy het wel die "c" behou.

 

Met die doop van sy eerste kinders word sy name in die kerkregisters as as Johan Nicolaas Wilhelm aangedui. Die van word deur die kerkamptenaar op verskei maniere gespel.

 

www.barckhausen.com van Rudolf Barckhausen

3.3 Jan sluit aan by die VOC

Johann Wilhelm Nicolaaszoon (Ek sal maar na hom as Jan verwys – soos hy dit self geskryf het) het as jong man op 19-jarige ouderdom, soos baie duisende Duitse jong mans, ‘n beter lewe gaan soek deur by die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOIC) aan te sluit. Dit VOIC was ‘n groot werkgewer met sy uitgebreide handelsbelange en kolonies soos die Bataafse republiek in Oos-Indië. Dit was dus algemene praktyk vir jong Duitsers om daar te gaan werk. Heelwat ander redes kan ook aangevoer word waarom Jan op 15 November 1765 as soldaat in diens van die VOC op die skip Kievitsheuvel vanaf Texel na die Kaap vertrek het.

Die toestande in Duitsland was maar swak a.g.v. die baie oorloë. Die dertigjarige oorlog het Jan miskien nie direk geraak nie maar die Sewejarige oorlog tussen 1756 en 1763 het moontlik ‘n groot rol gespeel in sy besluit om ander wêrelddele te ondersoek. Die Franse weermag het byvoorbeeld die dorpie Horn, waar Jan heel waarskynlik op daardie stadium gebly het, in 1761 beset. Oorlogsomstandighede sal mense maklik laat verhuis en Jan het sekerlik besef hy gaan binnekort vir oorlogsdiens opgeroep word in Duitsland.

‘n Mens moet ook onthou dat dit maar die normale tyd was vir ‘n Duitse jongman om die huis te verlaat omdat die tyd van sy Wanderschaft aangebreek het. Sedert die sestiende eeu was dit vir ‘n jongman na sy opleiding by ‘n ambagsgilde verpligtend om ‘n aantal jare rond te trek. Tydens hierdie drie tot ses jaar tyd reis hy rond om by verskeie meesters te werk en so ervaring, ‘n “lehrbrief”, getuigskrifte en kos te verdien.

Van Gelder verwys na twee persone se stories. Ernst Barchewitz, ‘n “ zeemleermaker” was onsuksesvol om in Hamburg en Amsterdam werk te vind. Hy keer egter terug na Duitsland “ietwat benauwd dat hij uitgelachen zou worden omdat zijn reis mislukt was” maar hy het die volgende jaar weer probeer en ‘n betrekking in ‘n ander vakrigting gekry. Georg Meister was ‘n ander geval. Hy is uit Duitsland weg om Europese tuine te bestudeer maar tot sy eie verbasing sluit hy toe onverwags aan by die VOC. Ek dink nie dit was die geval met Jan Willem Barkhuysen nie want soos ons later sal sien het hy waarskynlik beplan om by die VOC aan te sluit en hy was in elk geval goed ingelig oor die VOC deur sy broer.

Die voorbeeld van sy broer, Simon, is heel waarskynlik ‘n belangrike persoonlike rede waarom die stamvader so maklik by die VOIC aangesluit het. Sy broer Simon Henrich * 14 Junie 1731, was alreeds gevestig as sieketrooster in Surabaya (Batavië) /Indonesië, toe Jan vertrek het.

Ons weet dat Jan van ene H. Grimmenberg se diens gebruik gemaak het om by die VOC aan te sluit. Daar is baie geskryf oor die rol van hierdie agente wat personeel vir die VOC werf. Hulle is soms “volkhouers”, of sielverkopers genoem. Schoeman haal so aan oor hulle:, “baatzoekende menschen zich ophoudende met het huuren en aanwerven van volk ten diensten van de zeevaart Hulle het werksoekers geïdentifiseer, hul vertroue gewen en hulle dan losies en kos gegee tot hulle op een van die VOC skepe vertrek het. Die nuwelinge is dikwels afgerig vir die onderhoud by die VOC, hulle is vergesel as hulle die eed aflê en toegesien dat hulle ‘n dienskontrak teken. Dan het die volkhouer vergoeding geëis. As voorskot het elke nuwe soldaat twee maande se gasie of soldy as handgeld onvang. In Jan se geval was sy maandelikse soldy 9 guldens. Uit die 18 guldens het Jan dus vir Grimmenberg vir die losies betaal maar belangriker is die skuldbrief wat Jan moes onderteken vir 150 gulden wat oorgemaak is aan Grimmenberg vir die geslaagde werwingspoging. Nogal ‘n groot bedrag – amper ‘n jaar se salaris –en dit vir mense wat bekend was vir korrupsie, uitbuiting en omkopery. Geen wonder hulle is “zielverkopers” genoem nie.

illustratieillustratie

 

 

Twee jongens nemen geld aan van een wervende officier. Prent door Christian Richter, 17de eeuw. Kunstsammlungen Veste Coburg. Het versje luidt:
Nim hin das Werbegelld, ob du gleich Jung von Jaren
Das Huren lernstu bald, fluchen mustu nicht sparen

‘n Skets van ‘n volkhouer wat twee jongelinge werf. Regs is ‘n voorbeeld van die sogemnaamde skuldbrief wat uitgemaak is aan die volkhouer.

Van Gelder wys ook baie duidelik uit die wyse waarop die VOC funksioneer dat ‘n Duitser, soos Jan Barkhuysen, eintlik maar net as soldaat of matroos aanvaar sou word: “Een Duitser die het Compagniebedrijf zeer goed gekend heeft, schreef in de jaren vijftig van de zeventiende eeuw dat het voor een vreemdeling vrijwel onmogelijk was anders dan als soldaat naar de Oost te varen, van wat voor goede kwaliteit hij ook was of met welk een gezond verstand hij ook was gezegend.” Matrose moes darem ‘n bewese ervaring op see gehad het en hulle was werklik maar ‘n rowwe klomp. Die groot meerderheid nuwelinge het dus, ongeag hulle kwalifikasies of ambagte, as soldaat aangesluit. Om as soldaat aanvaar te word was geen militêre ervaring ook eintlik nodig nie, daar was genoeg tyd op die skip om die drilwerk op te knap. Die poste as skrywers, koopmanne en hoër offisiere is uitsluitlik vir Nederlanders gereserveer. Ek noem hierdie saak ook doelbewus omdat Jan Barkhuysen se familie onder die indruk was dat hy “…als Schreiber, um in Ostindien aufs Comptoir zu kommen (.. as skrywer om in Oos-Indië op kantoor te gaan [werk]). Dit lyk of die jonge man ‘n goeie skoolopleiding en moontlik ‘n vakleerlingskap al voltooi het en met baie hoë aspirasies gaan werk soek het. Die VOC het egter die laaste sê gehad.

illustratie

De binnenplaats van het Oost-Indisch Huis te Amsterdam. Tekening door Hermanus Pieter Schouten, ca. 1790. Gemeentearchief Amsterdam. Via deze binnenplaats en via de centrale trap moesten de mannen naar binnen, waar ze in de grote bewindhebberszaal werden gemonsterd.

In die skeepsjoernaal is ‘n dubbelbladsy grootboek oopgemaak vir “Johan Willem Barkhuysen van Hoorn – soldaat”. Sy soldy is aangeteken as 9 gulden per maand. Sy rekening is gedebiteer met die 18 gulden maandgeld wat hy vooruit as handgeld ontvang het, die 150 gulden skuld aan Grimmenberg, ‘n skeepskis van 4 gulden 5 stuivers, ‘n halwe maand soldy se boete vir laatkom met die aflees van die naamrol op die skip, mans wollen pakken van 2 gulden 6 stuivers, en een paar skoene vir 1 gulden 16 stuivers. Hy begin dus sy 5 jaar kontrak by die VOC met ‘n totale skuld van 180 gulden en 17 stuivers. Net mooi 20 maande se gasie.

3.4 Die skeepsreis as VOC soldaat na Suid-Afrika

As inleiding moet ek net noem dat die inligting oor hierdie skeepsreis heelwat anders is as vorige uitgawes van die familiegeskiedenis. Die rede hiervoor is dat ek kopiee van die spesifieke reis uit die Ryksargief in Den Haag aangevra het en dat die inligting wat ek daaruit gekry het baie van my vorige aannames weerspreek het. Soos dit maar met navorsing gaan kry ‘n mens selde wat jy verwag om te vind.

Die VOC het slegs drie keer per jaar ‘n handelsvloot uitgerus en nuwe mense in diens geneem, met Pase, tydens die Amsterdamse kermis in September en kort voor Kersfees. Die Kievitsheuvel se vertrekdatum, soos reeds genoem, is 15 November 1765 en was dus deel van die Kersvloot in 1765. Seker maar ‘n lekker koue dag daar in Texel toe die Kersvloot vertrek het.

Volgens die skeepsjoernale het Jan ‘n “mans wolle pakken” gekry waarmee hy met 2 gulden en 6 stuivers teen sy rekening gedebiteer is en hy het ook ‘n duffelse jas kontant gekoop. Hierdie warm klere het hy seker maar diep in sy skeepskis gebêre toe hulle die noordelike halfrond verlaat het.

Jan het op vertrekdag skynbaar amper die skip verpas. Hy was een van 62 mense wat beboet is met ‘n halwe dag se gasie omdat hulle afwesig was met die lees van die name op die skeepsrol op 15 November. Wat sy laatkom veroorsaak het sal ons seker nooit weet nie maar die feit van die saak is dat hy geklee in sy “wolpak” en met al sy besittings in sy skeepskis, vertrek het op die Kievitsheuvel van kaptein Franz Overzee. In totaal was daar presies 350 mense aan boord, 219 offisiere en matrose, 115 soldate, 12 vakmanne en 4 passasiers.

Volgens die rekords van die VOC het die Kievitsheuvel se vaart na die Kaap net meer as drie maande geduur, om presies te wees, 108 dae. Hierdie reis Kaap toe was nie maklik nie en ‘n mens kan maar net vir ‘n breë agtergrond boeke soos Dan Sleigh se Eilande en Karel Schoeman se werk lees om te sien hoe haglik en gevaarlik dit was.

Die vaart het sommer gou-gou probleme gehad. Volgens die projek oor skeepvaart van die Instituut vir Nederlandse Geskiedenis het die Kievitsheuvel vir 5 dae vanaf 20 tot 25 Desember op Santiago op die Kanariese eilande oorgestaan. Daar op Santiago is 3 soldate dood en een matroos, een soldaat en een vakman het gedros. Die rede vir die oorstaan is onbekend maar dit kan a.g.v. besonder slegte weer of herstelwerk wees – die skip was al baie oud en is na hierdie reis in Batavië afgebreek.

Volgens bogenoemde opsomming is daar ook 33 matrose dood tussen Nederland en die Kaap. Hierdie gegewens is dalk nie korrek nie want die totale van die opsomming klop nie, bv. in die kolom met totale sterftes vir die hele reis tussen Nederland en Asië word genoem dat net 20 matrose dood is asook 19 soldate en 1 vakman. In die detail word ook spesifiek genoem dat tydens die vier weke oorstaan in die Kaap is 2 matrose en drie soldate dood.

Ek het hierdie besonderhede oor die sterftes gegee om aan die een kant te wys watter risiko verbonde was aan die reis maar ook omdat Johan Willem Barkhuysen self so twee weke na aankoms in die Kaap, op 16 Maart 1766, in die hospitaal opgeneem is. Op hierdie stadium lyk dit vir my asof hy net 8 dae behandel is maar ek is nie seker of ek die beskikbare gegewens reg interpreteer nie. Sy soldy tot waar sy reis eindig word aangegee as 3 maande en 26 dae – 8 dae langer as die werklike reis.

Sy naam word nie verder in die Kievitshevel se skeepsjoernaal genoem vir die res van die reis na Batavië nie. Ons moet dus aanvaar dat hy toe nooit Batavië toe is om sy broer Simon te besoek soos ons aanvanklik gedink het nie. Hy het beslis nie met die Kievitsheuvel verder gereis nie en alhoewel hy dit later kon gedoen het, is daar nie op hierdie stadium inligting daaroor nie. My hardnekkige mening dat Jan vooraf beplan het om na Batavië te gaan grond ek op die brief wat sy broer, Carl Dietrich, aan hom geskryf het in 1770.

Hierdie brief asook ‘n latere brief van Herman Carl Dietrich se seun aan die stamvader is al die jare deur die familie in ‘n blikkie bewaar. Die briewe is werklik juweeltjies omdat dit die enigste persoonlike dokumente is wat bewaar gebly het en veral omdat dit die laaste kontak met die Duitse familie is.

skeepsjoernaal

Van Gelder

Van Gelder

Schoeman, Duitser, p. 56

In die 18e eeu is die Nederlandse silver Gulden, aangedui met f of fl, in 20 stuivers verdeel wat weer bestaan het uit 8 duit of 16 penning

Van gelder, Avontuur, p.

Van Gelder, Avontuur, p.

Carl Dietrich Barckhausen, Brief aan Jan

S keepsjoernaal Kievitsheuvel, RA Deel I/I.2.b.4 Band 6461

Skeepsjoernaal

skeepsjoernaal Kievitsheuvel

www.ingist.nl Besonderhede van reis 3937.6 vanaf Texel na Batavië

www.inghist.nl Besonderhede van reis 3937.6 vanaf Texel na Batavië

 

3.5 Jan Barkhuysen se lewe en werk in Suid-Afrika

3.5.1 Laaste kontak en briefwisseling met die familie in Duitsland .

Dat Jan se vestiging in Suid‑Afrika 'n groot skok vir sy familie was en dat dit moontlik nie die goedkeuring van sy familie weggedra het nie, is te lees in ‘n brief wat een van sy ander broers, Herman Carl Dietrich, op 14 Junie 1770 uit Hanover aan hom geskryf het.

Volgens Carl Dietrich was die familie onder die indruk dat Jan as skrywer by die VOC se kamer van koophandel gaan werk en na Oos‑Indie" sou gaan, maar met 'n skok moes hulle nou hoor dat hy 'n "informator" is in 'n vreemde land. Wat die werk as informator behels het, is nie heeltemal duidelik nie en ander dokumente meld bloot dat Jan ‘n soldaat is. Carl Dietrich vertel ook van hulle oudste broer Friedrich in Pruise (die offisier) en vra of daar nuus oor broer Simon in Surabya is (wat moontlik ook aandui dat Jan voor sy vertrek al beplan het om na Batavië te gaan om sy broer te besoek).

Volgens Karel Schoeman , het amptenare van die VOC dikwels ‘n groot sê gehad in die plek waar hulle diens gedoen het. Die dienskontrak met die VOC het ook bepaal dat die kontrak eers in werking tree met aankoms in die Kaap en die reistyd is dus uitgesluit. Die feit van die saak is egter dat Jan die Kievitsheuvel weer uit die Kaapse hawe sien vertrek het na Batavië in 1766. Hy sou nooit weer sy voet in Duitsland sit of sy familie weer sien nie.

Sinsnedes in die brief soos die volgende dui op moontlike onenigheid in die familie: "Ons almal vergewe jou" Ook met verwysing na sy broer Simon sê hy : "Ons leef nie soos broers saam nie en groet mekaar nie. Ek moet my elke keer skaam as ek oor my broer(s?) uitgevra word.” Hy is bereid om te help "maar dan moet jy vir my eerlik en opreg vertel wat gaan aan". "Ek wil nie my hart vir jou sluit nie, maar kan jou net help as ek oortuig is van jou opregtheid". Die brief is ook ‘n mooi voorbeeld van die formele hoogdrawende styl waarmee korrespondensie gevoer is in die tyd en dalk wil hy net sê “ek verlang na julle”. .

 

Eerste bladsy van die brief van Herman Carl Dietrich aan sy broer Jan.

Verdere inligting oor die familie in Duitsland is te lees in ‘n ander brief wat ‘n seun van Herman Carl Dietrich, naamlik Dietrich Ludwig, na ‘n groot gesukkel in 1816 aan Jan gestuur het. Hy vertel dat hy al Jan se briewe aan sy vader nog het…: “ Ik heb nog uwe brieven, welke Gij in het jahr 1765 voor uw vertrek van Amsterdam aan mynen Vader geschreven hebt, ook uwe brieven van di Kaap de goedeHoop waarvan de laaste gedateerd is de 20 ste Desbr 1774. Zedert dien tyd vind ik geen brieven meer van U en ik veronderstel dat Gij zult geschreven hebben, omdat Gij zult gehoor hebben dat myn Vader toen overleden is” . Verder vertel hy allerlei persoonlike inligting oor die familie daar.

Die ergste nuus in die brief is dat al Jan se naby (en verre) familie oorlede is. Weinige jaren daarna zyn ook alle uwe nabestaande hier in Duitschland overleden, van allen leeft er geen een meer behalven myn broeder Georg Arnold en ik - ook alle verre bloedverwanten zyn dood, alleen leeft nog de oude Tante Jonas te Hanover welke Gij het mischien nog zult kunnen herinneren. Jan Barkhuysen was egter ook alreeds oorlede toe die hierdie laaste brief aan hom in Suid-Afrika aangekom het.

Die ander broer, Simon, wat in Surabaya, Indonesië gaan werk het, het ook nooit teruggekeer Duitsland toe nie. Hy is getroud met M Winter en hulle het net een seun gehad. Moontlik ‘n aangenome kind?. ‘n Paar jaar na Simon se ontslag uit die VOC is hy in Indonesië oorlede. Sy van word in die VOC argief as Barkhouse aangedui.

3.5.2 VOC amptenaar, leenkneg en selfstandige boer

Wat Jan as soldaat en “informator” die eerste twee jaar na aankoms in die Kaap gedoen het is onbekend. Ons sal die VOC rekords nog moet deurgaan om dit te bepaal. Die enigste inligting uit sy betaalstaat by die VOC is dat hy nogal baie skuld gemaak het deur geld te leen as borg vir twee ander vriende. Ek is tans besig om dit te ontleed.

Die meeste soldate is uitgeplaas na buiteposte maar sommige het administrasie en wagbeurte by die kasteel gehad. Soldate wat nie onmiddelik nodig was nie is toegelaat om as leenknegte by boere te gaan werk. Dit het na net twee jaar diens by die VOC ook met Jan gebeur.

Op 8 Junie 1768 gaan hy 'n kontrak , met 'n boer, Nicolaas Janse van Rensburg, aan. Nicolas is die oudste seun van Johannes van Rensburg wat op die plaas Rietvlei in die huidige Riversdal omgewing geboer het. Alhoewel Nicolaas die plaas “” langs die Gouritsrivier van sy pa geerf het, het hy alreeds in 1765 op die plaas “Palmietfontein langs de Soetmelksrivier” begin boer. Dit was natuurlik hier op Palmietfontein waar Jan begin werk het vir van Rensburg.

Die kontrak tussen Jan en Van Rensburg is maar standaard en die inhoud dieselfde as in honderde ander soortgelyke kontrakte. Dit bepaal dat hy 'n jaar sal werk "als knegten tot wat redelyke dienstens hem verderes mogte benodigen". Hy sou ook maandeliks “17 guldens Indische valuatie, mitsgaders twee pond tabak boven en behalven onderhoud en spys en drank en goede huisvesting ontvang. Die twee was so tevrede met mekaar dat die kontrak hernieu is op 29 sept 1769 en in Julie 1771?(onduidelik). Die kontrak is nie weer henieu nie maar in Oktober 1776 meld Van Rensburg in ‘n verklaring by die notaris op George dat Jan die vorige vyf jaar steeds aan die bepalings van die kontrak voldoen het. Dit is sekerlik net gedoen om, voordat Jan sy eie pad loop, die ooreenkoms tussen hulle formeel af te sluit en te wys dat daar geen ongelukkigheid iewers bestaan nie.

Volgens Heese was die stamvader baie waarskynlik ook 'n onderwyser op die plaas, alhoewel die kontrak nie spesifiek daarvan melding maak nie. Dat hy sekerlik in staat was om onderwys te gee blyk uit sy mooi en duidelike handtekening onder aan die kontrak. Dit was ook algemeen gebruik daardie tyd om oud‑soldate as onderwysers in diens te neem. Van Rensburg en sy vrou het vier kinders van "skoolgaande" ouderdom gehad, onder andere 'n dogter, Jacquemina, van 13 jaar.

Die volgende vermelding is dat Jan lidmaat geword het van Tulbagh gemeente in 1771 “met attistatie van Schwalenberg. Uit hierdie inligting is daar twee aspekte wat opval. Eerstens is dit tog ‘n verassing hy ‘n lidmaat in Schwalenberg was want met elke amptelike situasie is sy plek van oorsprong as Horn, Graafskap Lippe, aangegee. Maar, soos ek reeds elders genoem het, is Eicholz by Steinheim, Horn en Schwalenberg in Duitsland in werklikheid baie na aan mekaar geleë. Volgens toerisme brosjures is Schwalenberg vandag ‘n idilliese klein dorpie met slegs ‘n paar duisend inwoners. Die ou kerke, stadsplein en baie huise uit 1700’s is vandag nog net so te sien.

Tweedens moet ‘n mens nie juis verwag dat Jan in 1771 in die strate van Tulbagh rondgeloop het nie. Die gemeentegrense was enorm en Riversdal het voordat Swellendam afgestig het maar onder die enigste twee bestaande gemeentes – Kaapstad en Tulbagh - geval. Die gebruik was dat die predikant deur die gemeente reis en op ‘n sentrale plek al die kerksake afhandel. Die doop, huwelik en aannemings is dan net in die betrokke gemeente se registers gedokumenteer.

In die betrokke lidmaatregister van Tulbagh is Jacomina Jansen van Rensburg se naam op dieselfde dag ingeskryf. Jan het natuurlik gelyktydig met Jacomina se aanneming sy eie lidmaatskap ingehandig want daar was reeds trouplanne in die lug.

Op 8 November 1771 is Jan (toe 25 jaar oud ) se huwelik met sy werkgewer se dogter, Jacquemina van Rensburg (16 jaar), in die Kaapstadse gemeente aangeteken. Dit lyk of hy na die troue nog so 5 jaar saam met skoonpa geboer het en toe is hy en Jacqeumina na hul eie plaas toe.

In 1776 kry Jan burgerskap en intussen is die plaas "De Vlugt" langs die Keurboomsrivier in die klein Langkloof, in die middel van die huidige Prins Alfredpas aan hom toegeken as leningsplaas. Mettertyd is die omliggende plase Keykoe (ook sommer Keurboomsrivier genoem) op 26 Januarie 1782 , Gykorie (vandag Orange‑Grove) en Pietersrivier in sy naam geregistreer. Dit het beteken dat die stamvader so teen die einde van die 18e eeu en die begin van die 1800’s self ‘n vooruitstrewende boer geword het en al die grond langs die bo-lope van die Keurboomsrivier, van Kykoe en Gykorie tot by De Vlug, besit het. ‘n Gebied wat vandag natuurlik uit tientalle plase bestaan.

Jan Barckhuysen was ‘n gerespekteerde persoon in sy omgewing. Hy is op 24 Oktober 1789 op die vergadering van landroste en heemrade van Swellendam as heemraad aangestel saam met Petrus Pienaar, Esias Meyer en Petrus du Preez. Heemrade was gesiene lede van die samelewing wat deur die regering aangewys is om sonder vergoeding die belange van die inwoners van ‘n bepaalde distrik te behartig. Dit het behels om geskille tussen inwoners te besleg en landroste by te staan met regspleging. Hierdie geskille kon enigiets behels van geskille oor plaasgrense, waterregte tot persoonlike geskille.

In 1785 het Jan as Kavalerie Sersant en lid van die militêre hof ‘n verklaring mede onderteken dat ene Kavalerie Kaptein ,Jacobus Johannes Botha, nie toegelaat word om aan die militêre oefenige en parade deel te neem nie. Botha het glo twee gesiene families nl. Rautenbach en Ferreira , erg beledig en nou wil niemand onder sy bevel dien nie. Botha het die versoek om nie die parade by te woon nie, aanvanklik geweier maar hierdie groep sersante en heemrade wat die hof uitgemaak het, het vrede en harmonie probeer handhaaf deur Botha en Rautenbach albei te oortuig om nie een die militêre oefening by te woon nie Botha is moontlik finaal oortuig toe hierdie hof noem dat die hulle as hof verantwoordelik gehou gaan word as ‘n verdwaalde koeel Botha tref, en hulle geen voorsorgmaatreëls daarteen getref het nie.

Ons kry ook die stamvader se naam onder die 109 mans wat in 1782 'n ekspedisie onderneem het om die skipbreukelinge van die Engelse skip, die "Grosvenor", te probeer opspoor. Hierdie soort ekspedisies het ‘n daartoe gelei dat die res van die binneland en kusstreek bekend geraak het en meer mense het daarheen verhuis.

Volgens ‘n streeksgeskiedenis van Knysna blyk dit uit amptelike verklarings van 1802 dat die Xhosas baie probleme vir die boere gegee het. Tydens oor en weer aanvalle is 100 van Barkhuysen (die stamvader?) se beeste gesteel. Die situasie het so gevaarlik geword dat die Bothas en Wolfaardts na veiligheid wou trek maar by "Die Poort" in Knysna, en volgens verslae, baie wreed vermoor is.

Jan Barckhuysen het in 1793 reeds as heemraad vir die gebied Keurboomsrivier ‘n ernstige pleidooi gelewer aan die drosdy in Swellendam om kruit en lood (ammunisie) beskikbaar te stel aan die gebied se mense “om hulself te verdedig teen die kaffers op die Oostelike grense”.

In 1812 is Jan Willem Barckhuysen, soos hy homself in die Kaap genoem het, op 69-jarige ouderdom oorlede. Ons weet nie waar hy begrawe is nie en soos ek reeds genoem het dink ek dit is een van die ongemerkte grafte in die begraafplaas net wes van die huis op Keykoe, langs die Keurboomsrivier.

3.5.3 Jaquemina (en die kinders) se lewe tot haar dood

Baie interessante inligting oor die eerste families kom in die reisverhaal (1816) van Eerwaarde C.J. Latrobe , 'n sendeling, voor. Op Kliprivier, langs die Keurboomsrivier, het hy die oudste seun van die stamvader, Johannes Cornelis, aangetref. Hy kon nie uitgepraat raak oor die gasvryheid nie. Die mense was arm en het dit moeilik gevind om die baie kinders te versorg, daarom gee Latrobe aan hulle 'n goeie aandete en heerlike egte koffie. Hy skryf verder "though they were poor Mr. en Mrs. Barkhuis treated us in return, and sweeter grapes and richer milk we had nowhere tasted, since we left Gnadenthal".

'n Seun van Johannes Cornelis, 'n "huge lad of seventeen" (Dit kon net sy oudste seun JNW gewees het) het die sendeling vergesel na die huis van Jacomina te Keurboomrivier, waar hy gehoop het om ‘n nuwe span osse te kry. Latrobe kla oor die moeilike terrein en die swak pad al langs die Keurbooms af en ook oor die seun se ongeërdheid wat hulle nogal bekommerd gehad het. Hy skryf oor hierdie jonge JNW, “his giddiness and inattention caused us great concern” Paaie was maar ‘n algemene probleem vir reisigers na die Langkloof. Latrobe beskryf die pad oor Perdekop na Plettenbergbaai en natuurlik die deel van die huidige Prins Alfred pas as ‘n “avenda horrida”. Ek moet sê dis selfs vandag nog erg.

 

 

Twee fotos van die huis op Kliprivier (vandag Oskraal) waar Latrobe vir Johannes Cornelis aangetref het. Hierdie oorspronklike opstal uit 1790 behoort vandag nog aan die nageslag van JC Barkhuizen. (Die deel regs met die groen (ligter) dak is later aangebou.)

Op “Keurboomsrivier” het Latrobe toe vir Jacquemina en haar dogters ontmoet. Dit was in die jaar 1816 en die stamvader was toe reeds oorlede. Daar bestaan nie ‘n plaas met die naam Keurboomsrivier nie en dit moes maar een van die stamvader se drie plase gewees het. Latrobe gee ‘n leidraad want hy noem dat hy en Broeder Schmitt na die kloof gestap het waar die Keurboomsrivier uit die berge vloei. Verder het Latrobe vanaf Plettenbergbaai oor Perdekop gereis en dus reeds verby De Vlug en Pietersrivier gereis en op Kliprivier oornag. Die volgende plaas op die ry af, en waar Jacomina dus in 1816 gebly het, was beslis Keikoe. Kykoe word selfs vandag deur die familie sommer Keurboomsrivier genoem. Ek weet dat De Vlug Jan se eerste leningsplaas was maar ek het ‘n vermoede dat Jan en Jacquemina dalk nie lank op De Vlug gebly het (indien ooit) soos ons gedink het nie, want Keikoe is in alle opsigte beter geleë. Dis ook langs die Keurboomsrivier soos die ander plase, die kloof is baie wyer hier en dit is op die hoofroete tussen George en die Langkloof (en Uniondale). Om op De Vlug te bly sou baie ekstra vervoerprobleme geskep het, veral voordat die Prins Alfredpas gebou is. Dit lyk vir my uit ‘n landbou oogpunt ook net ‘n beter opsie. Ons sal maar moet navorsing doen hieroor want daar was darem ‘n 40 jaar verloop vanaf die toekenning van De Vlug in 1776 en Latrobe se besoek aan Jacquemina in 1816.

 

Die huis op Keurboomsrivier/Kykoe wat heel waarskynlik aan die stamvader behoort het, of wat staan op die plek waar sy huis was. Die huis is langs die Keurboomsrivier en direk langs die “ou” pad tussen George en Uniondale. Ek is besig om alle inligting oor die huidige en historiese posisie van die huis te ondersoek.

 

Volgens Latrobe was Jacquemina nogal ‘n groot tannie en die ontvangs was aanvanklik nie so hartlik nie; "An old lady of extra‑ordinary bulk, and determinded countenance, occupy one corner of the room, and not a smile or inviting word bid us welcome. After staring some time at one another, the usual laconic address was utterd; "sit" was the next word and we sat down". Daarna is die besoekers uitgenooi om teewater te drink, maar is sonder aandete na hulle tente toe. Later eers het hulle uitgevind dat dit nie nodig is om te wag vir 'n uitnodiging nie maar dat enige besoeker vanselfsprekend kon aansit. Die volgende dag het die tante ontdooi en Eerwaarde Schmitt gevra om aandgodsdiens vir die familie te hou. Die Khoisan en slawe het dit ook bygewoon sodat daar ongeveer dertig mense teenwoordig was. Latrobe en sy geselskap het op 'n heel ander noot vertrek, "Being now in high favour with the old lady she invited us to an early breakfast after which we set out ...." Ook met sy terugkeer vanaf Uitenhage is Latrobe soos ou bekendes op “Keurboomsrivier” verwelkom. Jacomina het met albei besoeke gesê dat sy ongelukkig nie kon help met ‘n voorspan osse nie.

Latrobe het hom dikwels in sy boek uitgespreek teen die ongasvrye ontvangs by boeregesinne waar hy gestop het om toestemming te vra om daar te oornag of hulp met trekosse gevra het. Hy is gelukkig objektief genoeg om te erken dat die nuwe Britse regering in die Kaap in 1806, die opmeting van plase en die nuwe belastings daartoe bygedra het. Niemand het mooi geweet wat hierdie vreemdeling op die plaas kom doen nie. Sy besoek was ook net enkele weke na die Slagtersnek insident en gemoedere was erg opgesweep teen die Engelse. Tydens sy besoek aan Johannes Cornelis op Klipvier was daar volgens hom ook verskeie vriende uit die omgewing wat ook daar gekuier het en die gesprekke het maar telkens teruggegaan na die nuwe Britse regering, opmeting van plase en die nuwe belastings.

Die laaste beskikbare inligting oor Jacqeumina kom voor in twee addendums wat sy laat aanbring het in haar testament waarna reeds hierbo verwys is. Die eerste wysiging is in 1817 en daarin bemaak sy sekere slawe aan haar drie jongste kinders wat op daardie stadium nog by haar gebly het, op voorwaarde dat hulle haar sal versorg. In 1823 is daar ‘n verdere wysiging dat Petrus Hendrik Carel ( die dowe seun) en die jongste dogter, Johanna Petronella, elkeen nog ‘n slaaf erf op voorwaarde dat hulle haar nie sal verlaat nie en sal versorg tot haar dood. Jacomina se presiese sterfdatum het ek nog nie nageslaan nie maar dit was seker kort voor die boedelinventaris van haar besittings opgestel is in 1826.

Dat die stamvader en sy vrou redelik vermoënde mense was, blyk uit die inventaris gedateer 10 Augustus 1826, wat deel was van die boedel van Jacquemina na haar dood. (Uit 7 folio's haal ek net enkele interessante items aan). ‘n Mens moet ook in gedagte hou dat die inventaris opgestel 12 jaar na die dood van Jan en Jaquemina het sekerlik as weduwee die laaste jare nie meer aktief geboer nie. Sy en Jan het ook sekerlik uit hulle bates gehelp om al die kinders se eie boerderye aan die gang te kry. Die groot bedrag geld wat sy uitgeleen het (3130 Riksdaalers) is hoofsaaklik aan haar kinders geleen.

* Drie plase nl. Keikoe, De Vlugt en Pietersrivier geleë aan die Keurboomsrivier.

* Sewe slawe en 5 slavinne. (Hulle name word ook gemeld. )

* Ossewa met 37 trekosse.

* 51 aanteelbeeste, 100 skape en 10 perde.

* 11 dosyn borde, 29 skottels, 3 dosyn wynglase, 1 dosyn waterglase, 25 silver eetlepels, 43 vurke, 36 tafelmesse.

* 1 "Brandewyn ketel compleet", 3 "leggers met drank"

* 1 "Smitswinkel compleet", 1 "wagenmakerswinkel compleet"

* 2 "compleete schietgeweeren" en 2 verslete

* "50 voet stinkhout 3 duims planken" en "80 voet geelhoute planken"

* 25 "boeken in zoort"

* 3 Wakiste, 1 groot kis, 4 beddens, 6 katels

* Geld uitgeleen aan ander mense totaal 3130 Rd. (Riksdaalers)

Jan en Jaquemina se twee oudste seuns, Jacobus Nicolaas en Johannes Cornelis, het op die plase in die Langkloof en Kamanassie bly boer maar die ander kinders het na ander gebiede getrek. Die vyfde seun, Frederik Christoffel en sy vrou Margaretha van Rooyen, het saam met hul seun byvoorbeeld na die Piesangriviervallei in die huidige Plettenbergbaai omgewing verhuis. Simon Hendrik, die derde seun, het na Uitenhage omgewing getrek. Die Transvaalse Barkhuizens wat in die 1890’s in die Wes-Transvaal gaan vestig het, stam van hierdie Simon Hendrik af. Die skuif al dieper die binneland in het maar die algemene trekpatroon van die blanke veeboere gevolg en in hierdie opsig is Simon Hendrik en sy kinders se verhuisings niks vreemds nie.

4. ALLERLEI OOR DIE FAMILIE

4.1 Barkus se ketel (wat nooit kook nie)

In "Die Afrikaanse Woordeboek" Deel I word die uitdrukking Barkus, Barkous of Barkhuizen se ketel (wat nooit kook nie) aangegee. Dit word gesê wanneer iemand haastig (suinig/ongasvry?) is en nie koffie bedien vir die gaste nie.

Op navraag by die redakteur kom die oorspronklike optekening uit die twintigerjare van 'n Stellenbosch student, ene P.D.S. Nel uit Somerset‑Oos. Die woordeboek het "Die Burger" gevra om te help en in die rubriek "Van alle Kante" het lesers uit George, Mosselbaai, Knysna, Willowmore, Herold en Oudtshoorn inligting gestuur. Alles is variante van dieselfde verklaring wat dui op 'n historiese persoon (ene Barkhuizen, Barkhuis, Barkus of die se vrou). Alle verklarings dui verder op 'n ongasvrye en suinige oom of tante, wat nooit sover gekom het om koffie te bedien nie.

Ten slotte blyk dit uit die briewe dat die uitdrukking baie oud is. 'n Leseres van 71 jaar onthou nog dat haar vader die uitdrukking baie gebruik het. Was dit nie dalk ons stammoeder, Jacquemina, in die lig van Latrobe se verwelkoming, wat ons familienaam in 'n Afrikaanse spreekwoord verewig het nie?

Pieter Barkhuizen van George het ‘n persoonlike herinnering aan my gestuur oor die oorsprong van die uitdrukking maar dit verwys ook net na ‘n onbekende oom in die Langkloof. Volgens hom was dit ‘n kleinseun van die stamvader wat onderwys op Keurboomsrivier gegee het en omdat hy langs die pad gebly het was dit ‘n gewilde stopplek vir reisigers. Indien hy nie koffie wil gee vir sekere besoekers nie het hy die heeltyd kombuis toe geroep vir die Khoi bediende: “Jacob, kook die ketel nog nie? As Jacob egter hoor:“Bring die koffie” dan was die besoekers welkom en het hulle koffie gekry.

Latrobe, Travels to the Cape herdruk 1969 p.

MOOC: 7/1/100 nr. 4

Schoeman, K: ‘n Duitser aan die Kaap 1742 - 1765

Hierdie brief is vertaal uit Oud-Hoog Duits deur D. Peter Hohn.

Brief gedateer 14 Augustus 1816.

VOC, Skeepsjoernaal

KAB CJ 2902 (Kontrakte)

Die Rietvleiers, p.

KAB, CJ Kontrakte nr.

Heese: Kerk in die wolke- Eeufeesgedenkboek van Uniondale gemeente,

GISA Fm 154 ,Tulbagh lidmate

GISA, Lidmaatregister, Tulbagh,

Internet bladsye oor Steinheim.

Requestion, 1776

KAB: RLR

Requesten en memories

KAB,

Latrobe, CJ: Travels to the Cape

4.2 Barkhuizens in die nuus

Koerantberigte

Barkhuizen-fees op Aandster gehou . Stellalander 6 April 1989

‘n Familiefees van die nageslag van Jacobus Johannes Barkhuizen wat in 1889 op Hartbeespan in Amalia gevstig het.

“Toe die oupa van Diewedraai se diamante uitgehaal is” . Hoofstad 24 Oktober 1877

Hannes en oom Jan Barkhuizen kry ‘n 148 karaat diamant op hul plaas Diewedraai.

Gratis vakansie eindig in treurspel . Vaderland 5 September 1978

Outrage . Pretoria News 5 September 1978

Terros moor oorlewendes . Transvaler 5 September 1978

Freddie Barkhuizen, hoof van SATOER in Italië, en sy vrou Ans is dood in die vliegtuigongeluk nadat ZAPU vryheidsvegters die vliegtuig van Air Rhodesia neergeskiet het by Kariba.

“Nuusmaker van die week: Richard Barkhuizen” . Rapport 2 November 1986

Richard, miljoener sakeman kondig sy verlowing met Sandy McCormack, Mej. Suid-Afrika, aan.

“Double delight as Barkhuizen twins win Southbroom classic ”. South Coast Herald. 15 July 2005.

Graham en Graig Barkhuizen wen die 15de amateur golftoernooi in Southbroom, Natalse suidkus.

“‘n Man van 12 ambagte en 13 suksesse “ Hoofstad 30 Julie 1979.

Prof. Ben Barkhuizen stel sy boek “Vetplante van Suidelike Afrika” bekend.

Ben Barkhuizen, die stille plantkundige . Beels 1 Desember 1995

Huldeblyk oor Ben na sy afsterwe deur prof Manie van der Schyff.

“Sprinkaanplaag erg ….. maar in 1933… . Beeld 15 Maart 1986.

Johny Barkhuizen wys die sprinkane wat op sy plaas doodgemaak is (foto)

“Papa en pous kon hulle nie smous ” Rapport 18 September 1988.

Oom Christoffel Barkhuizen van Brandfort by sy stalletjie (foto) is ongelukkig omdat die verwagte toeloop van mense tydens die Pous se besoek aan Lesotho nie gebeur het nie.

“Bose mag keer dat sieners alles sien” . Rapport 27 September 1992

Anne Barkhuizen, siener, vertel aan Rapport hoe bose magte dikwels in hulle pad staan.

Daar vat ‘n Matie ons Merc . Rapport 29 Maart 1987

Andre Barkhuizen van George is ‘n student by Maties en hy wen Rapport se R50 000 Mercedes Benz kompetisie.

Oom Barkie (81) in Bloemfontein oorlede .

SP (Fanie) Barkhuizen, Vrystaat se Mnr Atletiek is oorlede. Fanie het Springbokkleure in atletiek gekry in 1935. Betrokke as afsitter en administrasie by Vrystaat atletiek.

Rabbit Breeders caught on the hop . Sunday Times 20 Maart 1983

Kontroversie oor die sakebedrywighede van Bill “Rabbitt King” Barkhuizen.

Wilde Weste in Hillbrow . Beeld 27 Januarie 1978

Onbekende mans skiet op Barnie Barkhuizen (32) van Kemptonpark.

Aanvaller gooi bang kind op oue se lyk . Beeld 10 Julie 2006

Mev Sylvia Barkhuizen (72) is vermoor op ‘n plaas buite Leslie.

 

Das tree uit . Springs en Brakpan advertiser 14 November 1986

Afskeidgeselligheid vir Das Barkhuizen, hoof van Laerskool Christiaan Beyers, wat uit diens tree na byna 40 jaar in die onderwys.

Motordief kry nie sy draaie . Beeld 27 Desember 1978

Die motor van CC Barkhuizen van Rooiwal buite Pretoria word gesteel en afgeskryf toe die dief in ‘n ongeluk betrokke is.

Botsing eis speurder

Speurder Ronald Barkhuizen is oorlede na ‘n botsing met ‘n vragmotor.

 

4 Name op sy moordlysie… toe skiet hy . Beeld 22 Augustus 1997

Mev Estelle Barkhuizen is saam met twee ander vroue vermoor deur ‘n swart manlike kollega weens vermoedlike rassespanning en geldtwis by Syfrets se kantoor in Pretoria.

 

5. DIE GENEALOGIESE REGISTER VAN DIE FAMILIE

5.1 Hoe om die register te gebruik

Die volgende afkortings word gebruik:

* ‑ gebore, + ‑ sterwe, x ‑ trou, xx ‑ hertrou, = ‑ gedoop.

Kodes word ook aan die verskillende geslagte gegee. Die stamvader is altyd a. Sy oudste kind is dan b1, tweede oudste b2, ens. Hulle kinders dan weer c1, c2, c3 ens. My genealogiese nommer is bv: b4, c3, d3, e1, f2, g3, h1.

Om dit makliker te maak het ek elke seun van die stamvader in ‘n aparte hoofstuk bespreek. Die dogters se nageslag is in die laaste hoofstuk.

5.2 Ander verduidelikings oor name en plekname .

Die plase wat die stamvader besit het, Kykoe, Gykorie Pietersrivier en De Vlug, lê al langs die bo-lope van die Keurboomsrivier en is streng gesproke nie in die Langkloof nie alhoewel dit soms so aangedui word. Aanvanklik, tot so 1780 het die gebied onder die landrosdistrik Swellendam geval, die naaste kerk was ook in Swellendam. Vroeg in 1800 het die landrosdistrik George en Graaff-Reinet afgestig en die gemeentes het ook nader gekom met die stigting van George, Graaff-Reinet, Knysna en later Uniondale. Ons sal dus kry dat Kliprivier byvoorbeeld in kerkdokumente en sterfkennisse geplaas word in enige van Swellendam, George, Uniondale of Langkloof.

Die George landrosdistrik is in wyke verdeel en hierdie strook het in die Voor-Langkloof geval. Ek dink die term Klein-Langkloof of Voor-Langkloof beskryf hierdie deel baie goed en ek is geneig om dit op hierdie stadium te gebruik.

Spelling van name bly ‘n probleem. Ek het aanvanklik met my navorsing besluit om almal se vanne as “Barkhuizen” te spel. Die groot rede was dat een persoon se van op talle verskillende maniere in dokumente gespel is. Variasies is slegs ingebring as mense wat vandag lewe die van anders spel. Maar so met die jare het dit duidelik geword dat families tog so met die tyd gekies het om ‘n spesifieke spelwyse te volg en ek is nou baie naby daaraan om dit reg te stel.

Vir die spelling van name is ek geneig om die naam op die doopinskrywing te gebruik maar ek kyk maar ook na die huweliksinskrywing en sterfkennis voordat ek besluit. Wie is ek in elk geval om te besluit wat is reg en daarom gee ek dikwels al die variasies.

5.3. Die kinders van die Jan en Jaquemina -

Johan Nicolaus Wilhelm * 30.05.1746 Nieder Eichholz +Swellendam 05.11.1812. (s.v. Nicolaus BARCKHAUSEN en Anna Catharina CLEVE). Kom in 1765 as soldaat op "Kievitsheuvel" in Kaap aan, X Kaapstad 8.11.1771 Jacquemina JANSE VAN RENSBURG (d.v Nicolaas JANSE VAN RENSBURG en AlbertaVAN ROOYEN)

b1 Nicolaas Jacobus = 03.10.1772 x Swellendam Johanna Elizabeth CRONJE = 03.10.1784 (d.v. Stephanus CRONJE en Susanna Jacoba HAARHOFF) (JEH is b3c6). Woon in Langkloof.

b2 Johannes Cornelis = Swellendam 05.11.1775 + Kliprivier, 7 .3.1858 x 24.09.1797 Frederika Margaretha Johanna JANSE VAN RENSBURG = 01.02.1778 (d.v. Johannes JANSE VAN RENSBURG en Elizabeth Sophia MULDER) (Sy is c3 d9 Van Rensburg ‑ niggie van Jacquemina (stammoeder). Hulle woon op Kliprivier (Langkloof).

b3 Alberta Catharina = 24.08.1777.

b4 Simon Hendrik = 02.10.1779 Swellendam x Kaapstad 20.03.1803 Sara Johanna JANSE VAN VUUREN (Weduwee van Cornelis Coenraad SCHEEPERS) d.v. Johannes Gerhardus JANSE VAN VUUREN en Sara Johanna VAN BEULEN). + 03.02.1852 Uitenhage.

b5 Barbara Johanna = 27.01.1782 x Swellendam .05.1809 Johan Daniël HERMAN.

b6 Jacomina Margaretha = 05.10.1783.

b7 Anna Catharina = 19.06.1785 +15.11.1843 Schynsbank, Plettenbergbaai x Kaapstad 20.03.1803 Christiaan VAN DER WAT = 1773.

b8 Johan Nicolaas Wilhelm = 20.04.1788 x Swellendam. 17.04.1816 Aletta Sophia Janse Van Rensburg (d.v Hendrik Janse van Rensburg en Susanna Josina Scheepers) = 1800. (Aletta is ‘n broerskind van Jaquemina, JNW en Aletta is neef en niggie)

b9 Frederik Christoffel = 08.11.1789 +1852 in huis van sy seun op Pieangrivier, Plettenbergbaai x Swellendam .04.1811 Margaretha Van Rooyen.

b10 Martha Catharina = 06.11.1791 x .12.1809 Nicolaas Cornelis Van Huyssteen.

b11 Petrus Hendrik Carel = 11.08.1793 (Ongetroud?). Hy was doof en het glo uitstekende houtwerk, veral muurhorlosies, gemaak.

b12 Christina Jacomina = 31.01.1796 x George 08.04.1821 Johannes Jurie (Hans Jurgen?) de Jager.

b13 Johanna Petronella *Kliprivier = 24.09.1797 + Keurboomsrivier 29.9.1861

Die nageslag van elkeen van die ses seuns van die stamvader word nou verder in aparte hoofstukke bespreek. Die nageslag van die dogters word in ‘n aparte hoofstuk bespreek.

10. DIE OUDSTE SEUN: NICOLAAS JACOBUS (b1)

11. DIE TWEEDE OUDSTE SEUN: JOHANNES CORNELIS (b2), VAN DIE PLAAS KLIPRIVIER.

12. DIE DERDE SEUN: SIMON HENDRIK ( b4) (DIE BARKHUIZENS NA TRANSVAAL)

13. DIE VIERDE SEUN : JOHAN NICOLAAS WILHELM

14. DIE VYFDE OUDSTE SEUN: FREDERIK CHRISTOFFEL (b9)

15. DIE JONGSTE SEUN : PETRUS HENDRIK CAREL (b11) ONGETROUD?



19 BRONNE

Literatuur

Heese ,J.A: Kerk in die wolke, Die eeufeesboek van Uniondale Gemeente

Heese,J.A. en Lombard R.T.J: Suid-Afrikaanse Geslagsregisters Deel 1,

De Villiers en Pama: Geslagregisters van Afrikaanse families

Le Roux, JG, ea. Bewaaarders van ons erfenis, Inleiding - Deel 30

Roland Linde: Meier zu Barkhausen. Eine Geschichte der Höfe Niederbarkhausen und Hohenbarkhausen in Lippe.

Schoeman, Karel: ‘n Duitser aan die Kaap. 1742 - 1765

 

Van Gelder, Roelof “Het Oost-Indisch Avontuur; Duitsers in dienst van de VOC (1600 -1800)”, beskikbaar op www.ndbl?

Letterkundige bronne

Tydgenootlike werke

 

Latrobe, CJ.: Travels to the Cape 1816

Tydskrifte en koerantartikels

 

 

Ongepubliseerde Manuskrip

Webbladsye

www.barckhausen.com

Argivale bronne

 

Gepubliseer

Leibrandt, HCV: Precis of the archives of the Cape of Good Hope. Letters despatched, 1696 – 1708. Cape Town, 1896

Ongepubliseer

 

Kaapse Staatsargiefbewaarplek, Kaapstad

 

Politieke Raad (C)

Ontvanger van Landinkomste (RLR)

Weesheer (MOOC)

Opgaafrolle (J)

J99 George 1819

Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA)

 

Nasionale argief , Pretoria

 

 

Boedels : Meester van die Hooggeregshof

 

Doopregisters: Swellendam, Uitenhage, George,

GISA argief

Barkhuizen,

Ultzen-Barkhausen, Navorsing 1934, Bremen.

Persone wat inligting bygedra het.

 

Navorsers : .

Pieter Barkhuizen van George

Gordon Barkhuisen - Umhlanga

Vraelyste:

Baie persone

Weblad:

 

Terug na bo